Comments are off for this post

Kom ons bid saam – 22 November 2020


Kom ons fokus in hierdie volgende paar weke veral op die Onse Vader-gebed, aan die hand van ons huidige preekreeks.

Maandag

Dink na oor en bid …
Onse Vader wat in die Hemel is …

Dinsdag

Dink na oor en bid …
… laat u Naam geheilig word.

Woensdag

Dink na oor en bid …
Laat u Koninkryk kom.

Donderdag

Dink na oor en bid …
Laat u Wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.

Vrydag

Dink na oor en bid …
Gee ons vandag ons daaglikse brood;

Saterdag

Dink na oor en bid …
… en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree;

Sondag

Dink na oor en bid …
… en laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose.

Want aan U behoort
die koninkryk en die krag en die heerlikheid
tot in ewigheid.
Amen.

Stuur asseblief spesifieke of algemene gebedsversoeke deur na een van die volgende kontakpunte:

  • Vanessa van Niekerk: 073 259 3292 / vanessa@irvines.co.za
  • Kerkkantoor: (011) 679-2102 / kerkkantoor@ngkloofendal.co.za


    Ons sê dankie!
  • Philip en Corrie Swart se kleindogter, Lily (9 maande oud), het ‘n beroerte gehad, vermoedelik veroorsaak deur ‘n gastro-virus wat sy ‘n paar weke vroeër gehad het. Die beroerte het ‘n epileptiese aanval tot gevolg gehad. Lily was omtrent ‘n week lank in die hoësorg-afdeling van ‘n Kaapstadse hospitaal waar allerhande toetse gedoen is. Lily is intussen ontslaan en almal is verstom oor haar goeie vordering. Bid asseblief steeds vir Lily en haar mense terwyl hulle nog wag vir verdere toets-uitslae om te bepaal wat die pad vorentoe behels.
  • Antoinette Nortjé se oog is ernstig beseer nadat ‘n oefenrek losgeskiet het en haar in haar oog getref het. Sy het ‘n skeur in haar oog gehad wat, volgens haar dokter, nie self sou kon genees nie, en sy moes gaan vir ‘n operasie. Antoinette was ‘n paar dae later reeds in die teater en onder verdowing toe die dokter weer die oog ondersoek en sien die skeur het genees!
  • Dit gaan beter met Bessie Lüther ná haar siekbed en draai in die hospitaal – ons is dankbaar dat sy alweer saam met ons in die erediens kon wees. Bid asseblief dat Bessie gou heeltemal sterk en gesond sal wees.
  • Harry-John Roesch (Johan en Alta se seun) het ‘n niersteenoperasie en ‘n aantal toetse ondergaan. Ons dank die Here dat die uitslae gunstig was.
  • Bertha van der Walt se oogarts is baie tevrede met haar vordering na die 2 operasies om katarakke te verwyder.
  • Annette, Jeannette en Gert Rautenbach se vriendin wat lank in Portugal vasgekeer was weens die Corona-pandemie, is terug in Suid-Afrika. Annette se man, Peter, sal hopelik ook binnekort terugkom en dan oorgeplaas word na ‘n rehabilitasiesentrum vir verdere versorging, maar dit lyk of hy redelik goeie vordering maak wat sy gesondheid betref.
  • Andries Badenhorst (Alet se man) herstel goed ná die aanval op hom in hulle huis in Mosambiek. Die diep snye aan sy kop herstel goed, en die drade waarmee sy kake geheg is, behoort binnekort uitgehaal te word. Hy het nou ‘n gehoorprobleem ontwikkel ná die aanval, en ly aan gedeeltelike geheueverlies. Bly asseblief steeds bid vir sy en Alet se volkome genesing van die trauma.
  • Die dokters is baie tevrede met Frans Bester se vordering nadat ‘n breingewas by hom verwyder is. Hy ly egter ook aan depressie – bid asseblief vir hom vir beterskap hiervoor.
  • Die kerkraadsvergadering van 18/11/2020 het baie goed en geseënd afgeloop.
  • BAIE DANKIE aan ons Hemelse Vader vir Sy volgehoue sorg, seën, leiding en liefde te midde van die moeilike omstandighede van 2020!

Bid asseblief vir die volgende persone wat tans gesondheids- of ander probleme het:
Lidmate:

  • Bid asseblief vir almal wat besig is met eind-eksamens.
  • Alta Roesch het ‘n operasie aan haar lugweg gehad. Sy is nog nie heeltemal gesond ná die prosedure nie, en dit lyk of sy ‘n longinfeksie opgedoen het – bid asseblief vir haar spoedige en volkome genesing.
  • Ben en Ria Bos is gediagnoseer met CoVid-19. Hulle voel albei al baie beter, maar bid asseblief vir hulle volkome genesing.
  • Bid ook asseblief steeds vir:
    Marie Commerford; André van Platen; Adéle van der Schyff; Anna Herselman

Heelwat van ons gemeentelede se vriende & familielede het dringende gebed nodig, asseblief:

  • Adri de Beer (oud-lidmaat) is ongelukkig vroeër die maand oorlede. Bid asseblief vir Brian, asook vir die kinders en die hele famile, vir troos, berusting en genade.
  • Saartjie Bester se broerskind, Deidré, moet binnekort ingaan vir ‘n breinoperasie. Bid asseblief dat alles voorspoedig sal verloop, en dat Deidré heeltemal sal herstel.
  • Bid ook asseblief steeds vir die volgende ou-lidmate:
    Mandy Browne, Derick Stevens, Stefan Fourie en Bertie Richards

Comments are closed.