Comments are off for this post

Kom ons bid saam – 13 Junie 2021

Maandag
Bid vir die talle lidmate wat tans òf self CoVid onder lede het, òf wat familielede of vriende het wat die siekte opgedoen het. Bid ook asseblief vir beskerming teen die virus vir ons almal.

Dinsdag
Bid spesifiek vir almal op ons lys (elders op hierdie blad) wat siek is, of met ‘n probleem of met verlies worstel.

Woensdag
Bid vir ons Kerkraad – vir leiding, beskerming, eensgesindheid en Bonatuurlike salwing. Bid ook asseblief nou al vir Goddelike leiding en wysheid vir die Kerkraadsvergadering van 23/06/2021.

Donderdag
Bid ernstig vir mense wat nie meer eredienste bywoon nie, en vra dat hulle weer sal terugkeer na die kerk (Hand. 12:5 & Jak. 5:19, 20) – op watter platform / manier ookal terwyl ons inperkingsreëls moet gehoorsaam.

Vrydag
Vra dat daar nuwe entoesiasme en vernuwing sal kom in die deelname aan lofprysing en aanbidding van ons Gemeente (Matt. 18:18).

Saterdag
Smeek die Heilige Gees vir ‘n vars salwing oor ons musiekleiers, asook vir Goddelike leiding en beskerming.

Sondag
Vra vir die Here se Teenwoordigheid in ons eredienste.

Ons sê dankie:

  • André van Platen was verlede Woensdag by die onkoloog na sy opvolg-scan van die vorige week. Daar is geen teken van kanker nie, en die dokter is baie tevrede met sy algehele toestand – kom ons dank ons getroue Vader vir hierdie goeie nuus!
  • Joost Maree het verlede Donderdag gegaan vir die uitslae van sy opvolg-bloedtoets ‘n paar dae vroeër, en die toets is heeltemal skoon! Joost het glad nie eens nodig om vir bestraling te gaan nie. Alle dank, lof en eer aan ons genadige Hemelvader!
  • Lizette Retief sterk baie goed aan na die tweede deel van haar prosedure ‘n paar weke gelede. Sy hoef die dokter eers oor 7 weke te sien.
  • Van ons gemeentelede se familielede wat CoVid opgedoen het, is genadiglik al heelwat beter.

Bid asseblief vir die volgende persone wat tans gesondheids- of ander probleme het:
Lidmate:

  • André en Elise van Platen se suster en Charl Claassen se ma, Margaret, is ongelukkig Woensdagaand skielik oorlede. Margaret was ook ‘n lidmaat by ons en het aktief aan ons gebedsaksie deelgeneem. Bid asseblief spesiaal vir Charl, sy susters Janine en Monique, vir André, Elise en die hele famile vir troos en berusting.
  • Tom en Elize Cottle se dogter, Natasha Vermaak, is gediagnoseer met ‘n aggressiewe breingewas, en twee ander gewasse is ook intussen opgespoor. Sy het vir nog toetse gegaan sodat die beste behandeling bepaal kan word – sy sal moontlik begin met ‘n paar sessies bestraling en dan ‘n kursus chemo-pille. Indien die chemo-pille nie help om die gewasse te krimp nie, sal Natasha dan vir chemoterapie gaan. Bid asseblief dat die dokters die beste moontlike behandeling sal bepaal, en dat die chemo-pille genoegsaam sal help. Bid asseblief vir Natasha vir krag, genade en genesing, en ook vir haar man, Rudi, hulle dogters – Kaylee en Chloë – en vir Elize en Tom vir moed, rustigheid en genade in hierdie baie moeilike tyd.
  • Philip en Corrie Swart het ongelukkig CoVid opgedoen. Bid asseblief dat hulle die siekte nie in ‘n erge graad het nie, en dat hulle albei gou weer gesond sal wees.
  • André van Platen het ‘n “nat kol” in sy linkerlong wat die dokter opgemerk het tydens sy onlangse scan, en André moes ‘n naald-aspirasie laat doen om te kyk wat die kol veroorsaak. Die dokter vermoed dit het dalk iets met sy dialise te doen, maar wil eers heeltemal seker maak. Bid asseblief dat die kol nie ‘n ernstige probleem is nie en maklik opgelos sal kan word, en dat André nie vir nog ekstra dialise sal hoef te gaan nie.
  • ‘n Jong seun van ons Gemeente sukkel met gedragsprobleme as gevolg van medikasie vir outisme – hy sukkel veral met dissipline by die skool. Hy het onlangs na ‘n nuwe skool geskuif. Bid asseblief vir ‘n deurbraak vir hom, sy gesin en sy onderwysers, en vir goeie samewerking tussen almal wat hom help.
  • Bid asseblief steeds vir Stephné en Retha de Lange, sowel as vir Tannie Jessie Wessels, wie baie onlangs geliefdes aan die dood moes afstaan.
  • Lizette Retief; Marietjie van der Westhuizen; Adéle van der Schyff; Frans Bester

Van ons gemeentelede se vriende & familielede het dringende gebed nodig, asseblief:

  • Jeannette Jonker se broer, Theo van Aswegen, het ongelukkig TB opgedoen. Bid asseblief vir hom vir volkome herstel, en dat hy nie ook nog sal CoVid ook optel terwyl sy gestel so kwesbaar is nie.
  • Tannie Gerna Honniball se kleinseun, Abri, is met CoVid gediagnoseer, en ander lede van sy gesin toon ook simptome van die virus. Bid asseblief vir Abri vir volkome genesing, en dat hy nie te veel skoolwerk sal hoef in te haal nie (hy is tans in matriek). Bid ook asseblief dat die ander gesinslede heeltemal gesond sal word.
  • Tom Cottle se vriend, Hennie Noordman, het ook CoVid opgedoen. Hy was aan die beter word, maar sy suurstofvlakke het toe begin daal en die dokter het vasgestel dat hy gaatjies in sy long het. Bid aseblief dat Hennie gou sal gesond word.
  • Dina Vermeulen se vriendin, Sharon, is in die hospitaal opgeneem met (vermoedelik) keelkanker. Sy het onlangs ‘n operasie ondergaan vir ‘n kankergewas aan haar rugstring, en die dokters vermoed dat die kanker dalk versprei het. Bid asseblief vir Sharon vir krag om hierdie nuwe gewas te kan beveg en vir volkome genesing, en vir haar en haar familie en ander geliefdes vir moed, krag en genade.
  • Elise van Platen vra voorbidding vir hulle apteker, Costa – hy is met kanker gediagnoseer en begin binnekort met behandeling. Bid asseblief vir Costa se spoedige en volkome herstel, en vir krag om die behandeling te kan deurgaan. Bid ook asseblief vir sy familie in hierdie tyd.
  • Lizette Retief vra voorbidding vir vriende van hulle se 41-jarige seun. Hy kry huidiglik berading nadat hy probeer selfdood pleeg het. Hy is baie depressief omdat hy sy werk verloor het en sukkel om ordentlike werk te kry om sy familie te onderhou. Bid asseblief vir uitkoms vir hierdie man en sy mense, en dat hy gou gesond sal word – fisies, geestelik en emosioneel.
  • Gert en Jeannette Rautenbach vra voorbidding vir hulle vriende, Peter en Annette, vir wie ons gebid het toe hulle lank in Portugal gestrand was. Dit gaan redelik goed, maar Peter het steeds baie versorging nodig. Bid asseblief vir sy volkome genesing, en vir Annette vir krag en leiding om hom te kan help en versorg.
  • Bid ook asseblief steeds vir die volgende oud-lidmate: Mandy Browne; Derick Stevens; Stefan Fourie; Bertie Richards

Comments are closed.