Comments are off for this post

Kom ons bid saam – 11 April 2021

Maandag

Vra die Here om ons te beskerm teen die volgende verwagte golf van Corona-infeksies: dat so min as moontlik mense die virus sal opdoen, en dat almal hulle aan die opgelegte reëls en voorskrifte sal hou om die verspreiding van die virus so veel as moontlik te bekamp.

Dinsdag

Vra ons Here om almal wat tydens die pandemie hulle werk verloor het, weer te help om ‘n goeie werk te kry, en dat ons land se ekonomie sal stabiliseer.

Woensdag

Bid dat die kwessie met studente wat op gratis tersiëre onderrig aandring, vreedsaam en regverdig opgelos sal word.

Donderdag

Bid vir die situasie in Noord-Mosambiek, waar terroriste huidiglik baie aktief is en baie mense se lewens en eiendom bedreig word.

Vrydag

Vra ons Here Jesus dat Hy Homself veral aan Moslems sal openbaar, en dat baie tot bekering sal kom.

Saterdag

Bid vir die bekering van baie Jode tot die Christendom.

Sondag

Bid vir sendelinge wêreldwyd: vir goeie gesondheid, vir geleenthede om die Evangelie te verkondig, dat die Here in elkeen van hulle behoeftes sal voorsien, en dat Hy hulle sal beskerm wanneer hulle veral onbereikte bevolkinsgroepe bedien.

Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help
wat met hulle hele hart
op Hom vertrou.

2 Kron. 16:9

Bid asseblief vir die volgende persone wat tans gesondheids- of ander probleme het:
Lidmate:

  • Wilma Botha het op 08 April in Margate ‘n operasie ondergaan om ‘n obstruksie in haar maag te verwyder. Hierdie operasie was suksesvol, maar ‘n kwaadaardige gewas het in haar buik gebars. Sy is tans op ‘n ventilator en antibiotika om infeksie te voorkom. Bid asseblief dat sy gou weer heeltemal gesond sal wees, en dat geen verdere behandeling nodig sal wees nie. Bid ook vir Johan terwyl hy saam met haar in Kwa-Zulu Natal is, en ook vir die res van die familie vir rustigheid, veral noudat hulle so ver van Wilma af is.
  • Joost Maree gaan op 16 April vir ‘n operasie – bid asseblief nou reeds dat alles goed sal afloop, dat Joost gou weer heeltemal gesond sal wees, en ook vir rustigheid vir beide hom en Susan voor die operasie, asook vir die hele familie.
  • Lizette Retief het onlangs ‘n prosedure ondergaan en sterk tans tuis aan. Dit gaan al heelwat beter, en die dokters is baie ingenome met die vordering wat sy maak – bid asseblief dat sy gou weer heeltemal sterk en gesond sal wees.
  • ‘n Jong seun van ons Gemeente sukkel met gedragsprobleme as gevolg van medikasie vir outisme – hy sukkel veral met dissipline by die skool. Bid asseblief vir ‘n deurbraak vir hom, sy gesin en sy onderwysers.
  • Marietjie van der Westhuizen
  • Marie Commerford
  • André van Platen
  • Adéle van der Schyff
  • Frans Bester

Van ons gemeentelede se vriende & familielede het dringende gebed nodig, asseblief:

  • Joost en Susan Maree se seun in Duitsland, Gerhard, het ongelukkig CoVid opgedoen en was baie siek. Dit lyk egter of hy besig is om beter te word. Bid asseblief dat hy gou heeltemal gesond sal wees, en bid asseblief dat sy vrou, Chrisna, nie die virus sal opdoen nie.
  • Herman en Adeline van Niekerk se dogter se skoonpa, Willie, het kanker en ondergaan tans chemoterapie. Bid asseblief dat hy volkome sal herstel, as dit die Here se Wil is, en dat hy nie ook CoVid sal opdoen terwyl sy weerstand so laag is nie. Sy vrou, Hannie, is onlangs aan CoVid oorlede.
  • Jackie Cuthbert, Willie van der Ryst se dogter, het ongelukkig haar werk weens aflegging verloor. Bid asseblief dat sy gou weer ‘n goeie werk sal kry, waar sy baie gelukkig sal wees.
  • Elise van Platen vra voorbidding vir haar broer, Martin, en sy vriendin van die afgelope 25 jaar, Lynne: Lynne se seun van omtrent 27 jaar oud is ‘n paar weke gelede oorlede. Hy was soos ‘n eie seun vir Martin – die familie is verpletter. Bid asseblief vir Lynne, Martin en die hele familie vir troos, berusting en krag in hierdie baie moeilike, hartseer tyd.
  • Bid ook asseblief steeds vir die volgende oud-lidmate:
    Mandy Browne; Derick Stevens; Stefan Fourie; Bertie Richards

Stuur asseblief spesifieke of algemene gebedsversoeke deur na een van die volgende kontakpunte:

  • Vanessa van Niekerk: 073 259 3292 / vanessa@irvines.co.za
  • Kerkkantoor: (011) 679-2102 / kerkkantoor@ngkloofendal.co.za

Comments are closed.