Comments are off for this post

Kom ons bid saam – 10 Januarie 2021


In die lig van die nuwe vlaag Corona-gevalle, kom ons fokus weer vir die volgende paar weke op gebed teen die pandemie.

Maandag

Bid vir almal wat huidiglik CoVid-19 onder lede het vir ‘n spoedige en algehele herstel.

Dinsdag

Bid vir alle dokters, verpleegpersoneel en ander mediese personeel wat CoVid-pasiënte moet behandel.

Woensdag

Bid steeds vir Goddelike beskerming teen die CoVid-virus, asook vir deurbrake ten opsigte van ‘n entstof of ander teenmiddel, en vir die regverdige en bekostigbare verspreiding daarvan.

Donderdag

Bid teen die verspreiding van fop-nuus ten opsigte van die pandemie, entstowwe en die inperkingsreëls.

Vrydag

Bid dat almal verantwoordelikheid sal neem vir hulle eie, sowel as vir ander mense in hulle midde, se gesondheid en veiligheid, en dat almal die inperkingsregulasies sal respekteer en nakom.

Saterdag

Bid dat nog meer mense nie hulle werk sal verloor nie, dat meer besighede nie sal hoef te sluit nie, en dat ons land se ekonomie nie nog meer benadeel sal word weens die pandemie nie.

Sondag

Dank die Here vir elke persoon wat reeds van CoVid herstel het.

Vertrou op die Here!
Wees sterk en hou goeie moed!
Ja, vertrou op die Here!”

Ps. 27:14

Bid asseblief vir die volgende persone wat tans gesondheids- of ander probleme het:
Lidmate:

  • Bertha van der Walt het in Desember velkankergroeisels laat verwyder, en moes ook ‘n veloorplanting op haar been ondergaan waar een van die groeisels verwyder is. Sy sterk redelik goed aan, maar bid asseblief steeds dat alles wel is en sy geen verdere behandeling nodig sal hê nie.
  • Gerna Honiball het nog steeds redelik pyn ná haar knie-operasie op 01/12/2020. Bid asseblief dat sy gou weer beter sal voel, en dat daar geen komplikasies of terugslae sal wees nie.
  • Alta Roesch het ‘n operasie aan haar lugweg gehad, en dit lyk of sy ‘n virus in die hospitaal opgedoen het – bid asseblief vir haar spoedige en volkome genesing.
  • Bid ook asseblief steeds vir:
    Marietjie van der Westhuizen; Marie Commerford; André van Platen;
    Adéle van der Schyff; Frans Bester

Van ons gemeentelede se vriende & familielede het dringende gebed nodig, asseblief:

  • Philip en Corrie Swart se dogter en skoonseun, Annette en Hennie Coetzee, het positief getoets vir CoVid-19. Bid asseblief dat hulle gou volkome sal herstel, en ook vir beskerming teen die virus vir hulle 2 jong kinders.
  • Kobus Prinsloo se broer en dié se verloofde, Chris en Ansie, is met CoVid-19 gediagnoseer. Bid asseblief dat hulle vinnig beter sal voel en volkome sal genees.
  • Gene Fourie, Philip Swart se susterskind, sterk redelik goed aan nadat ‘n trok hom van sy fiets afgestamp het, maar hy sal nog ‘n hele rukkie buite aksie wees. Bid asseblief dat Gene gou heeltemal gesond sal wees, en dat daar geen blywende skade sal wees nie.
  • Willie van der Ryst se dogter, Jackie Cuthbert, is ongelukkig by haar werk afgelê, en het nog nie ‘n nuwe werk gekry nie. Bid asseblief dat sy binnekort weer ‘n goeie werk sal kry.
  • Jeannette Rautenbach se vriendin, Bertha, het sleg geval en baie erge beserings aan haar gesig opgedoen – sy het ‘n gebreekte wangbeen, gebreekte tande, en ander beserings. Bid asseblief dat sy gou sal herstel, en dat die pyn draagliker sal word.
  • Saartjie Bester se broerskind, Deidré, moet ingaan vir ‘n breinoperasie. Bid asseblief dat alles voorspoedig sal afloop, en dat Deidré heeltemal sal herstel.
  • Bid ook asseblief steeds vir die volgende oud-lidmate:
    Mandy Browne; Derick Stevens; Stefan Fourie; Bertie Richards

Stuur asseblief spesifieke of algemene gebedsversoeke deur na een van die volgende kontakpunte:

  • Vanessa van Niekerk: 073 259 3292 / vanessa@irvines.co.za
  • Kerkkantoor: (011) 679-2102 / kerkkantoor@ngkloofendal.co.za

Comments are closed.