6 Desember 2020 – Die ondraaglike las van hoop

Goeie dag en baie welkom by ons boodskap vir Sondag 6 Desember 2020. Sien asseblief ons Toktokkie en gebedsversoeke vir vandag hier.

Skriflesings: Jeremia 20:7-18
Teks: Jeremia 20:7 & 20:11-13
Tema: Die ondraaglike las van hoop

JEREMIA 20:7 – “U het my mislei, Here, en ek het my laat mislei. U was te sterk vir my, U het gewen. Ek word heeldag uitgelag, almal spot met my.”

JEREMIA 20:11 – “Maar U is by my Here, en U is magtig en sterk…”

Jeremia het wonderlike voorregte gehad. Van kleins af het hy groot geword met die besef dat die Here hom vir iets groots bestem het — hy dien dan ook as priester; hy word geroep om as profeet van die Here op te tree; hy moes sy mense help om in ‘n krisistyd te verstaan wat met hulle gebeur; hy was die draer van ‘n boodskap van hoop.

Maar hierdie voorregte het ook verantwoordelikheid meegebring en dit het vir hom ‘n ondraaglike las geword.

Waarom? Omdat dit hom in konflik gebring het met die mense rondom hom. Op ‘n manier was dit van die begin af so bestem. In Jeremia 1:18-19 word die grondplan van sy lewe reeds geteken:
– “Jy, Jeremia…teen die hele land, teen die koningshuis van Juda en al sy amptenare, teen sy priesters en teen die bevolking,” moet jy profeteer.
– Daarteenoor: “Hulle sal teen jou veg…” Jy teen hulle en hulle teen jou. So lyk die grondplan. Jeremia se lewe kan heel gepas as “designed for conflict, “beskryf word.

Dit skep oomblikke waarin dit voel asof jy saam met Jeremia kan sê:
Jer 20:9c.” Ek is moeg van weerstand bied . . . ek kan nie meer nie.”
Wat veroorsaak dat ‘n mens doodmoeg kan aanhou om tog die ondraaglike las te dra?
Advent gee die antwoord = Jesus Christus se koms na die wêreld. God se bedoeling met Jesus se stuur na elke mens toe, in hierdie wêreld. Die feit dat “God se las” ook ‘n las van hoop is.

En dan nie hoop in die van “the power of positive thinking” nie, maar hoop wat weet:
Selfs in my uiterste nood is God nog steeds daar; selfs in my diepste eensaamheid is ek nie alleen nie. Dit is die soort hoop wat weet dat my lewe, soos Jeremia s’n, opgeneem is in God se groter verhaal. My pyn, my verlies, my prysgawe is in God se hande — nie noodwendig omdat Hy dit bewerk het nie, maar omdat Hy dit in sy hande hou en daarmee werk sodat daar iets goeds uit kan voortkom.

Treffend in Jeremia 20 is dat Jeremia gefokus bly op God. Hy baklei met God; Hy vervloek die dag van sy geboorte; hy vervloek die persoon wat die nuus oor sy geboorte oorgedra het, maar hy laat God nie los nie. Hy rig sy fokus steeds op God.

Advent vestig hierdie hoop weer opnuut by ons. Dit is Goddelike hoop. Dit is geloof wat bereid is om die sprong te waag.

Comments are closed.