3 Januarie 2021 – Die hoop beskaam nie want ons gaan 2021 in met die GESINDHEID van Jesus vooraan.

Goeie dag, en baie welkom by ons eerste diens vir 2021. ‘n Baie voorspoedige nuwe jaar vir u en u gesin en familie toegewens!

As gevolg van die nuwe beperkings wat weer ingestel is as gevolg van Covid-19, sal die volgende drie Sondae se dienste weer elektronies geskied. Die preekskets volg na die video, volg die diens op youTube hier: https://youtu.be/oqPNIaTfGFU

Skriflesings: Filippense 2:5-11; Lukas 19:28-48
Teks: Filippense 2:7a; Lukas 19:44-48
Tema: Die hoop beskaam nie want ons gaan 2021 in met die GESINDHEID van Jesus vooraan.

“Maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.” Filippense 2:7a

Jerusalem was die sentrum, die beheerpunt van waaruit die Romeine mag uitgeoefen het, asook die spilpunt van godsdienstige mag. Die tempel op die tempelberg en die Romeinse vesting reg langsaan was die simbole van ‘n sisteem wat swaar op die skouers van gewone mense gedruk het. Dit was ‘n ekonomiese, politieke en godsdienstige sisteem wat algehele beheer oor mense se lewe uitgeoefen het.

Die samelewing van destyds is gekenmerk deur ‘n dubbele sisteem van uitbuiting: daar was die Romeinse owerheid met sy belastings en sy streng politieke beheer. En dan was daar die tempel met sy eie tempelbelasting en ‘n godsdienstige sisteem wat ook daarop gerig was om beheer uit te oefen oor die lewe van mense. Met Sy intog in Jerusalem betree Jesus dus vyandsgebied.

Jesus se bediening was grootliks gerrig op mense wat, soos Hy, nie deel van die magsisteem was nie. In baie gevalle het Hy Hom juis tot mense gerig wat slagoffers van hierdie sisteem was.

Van die begin af, soos verwag is, het Jesus se optrede wantroue en weerstand gewek. Veral by hulle wat op die een of ander manier ‘n belang daarby gehad het dat die heersende status quo nie versteur moes word nie. In hierdie kringe was daar van die begin af die aanvoeling dat Jesus se boodskap ‘n bedreiging inhou vir die manier waarop die samelewing gestruktureer was.

Daarom was Jerusalem vir Jesus vyandsgebied. Dit was die sentrum van hulle wat Hom van die begin af gewantrou het, toenemend weerstand gebied het teen sy optrede en begin soek het na ‘n manier om van Hom ontslae te raak. Natuurlik was dit vir Jesus niks vreemds om vyandsgebied te betree nie. En toe nuus van Jesus se geboorte koning Herodes in Jerusalem bereik het, moes sy ouers met Hom vlug omdat Herodes ‘n grootskaalse kindermoord van stapel gestuur het om ontslae te raak van enige moontlike bedreiging wat hierdie nuutgebore kind vir hom kon inhou. Jesus leef dus van die begin af in vyandsgebied.

Dit is eintlik waaroor sy menswording gegaan het. Hy neem die gestalte van ‘n slaaf. Die mense verwag ‘n Krygsman om hulle van die sisteme te bevry – wat kry hulle? Iemand wat die gestalte van ‘n slaaf aanneem en word uiteindelik ‘n Gekruisigde.

In ‘n tyd en in ‘n wêreld waar slawe die heel laagste posisie in die samelewing ingeneem het, neem Jesus die gestalte van ‘n slaaf aan. Hy vereenselwig Hom met die nederigste van die nederiges, met die eenvoudigste van die eenvoudiges. Hy kom leef in vyandsgebied.

Met hierdie gesindheid daag Hy so die mag van die vyand uit. Hy doen dit, omdat Jerusalem nie bedoel was om die sentrum van uitbuiting en menslike magsuitoefening te wees nie, maar om die stad van God te wees.

En die tempel was ook nie bedoel om ‘n rowernes te wees nie, maar ‘n huis waar mense in gebed tot God kan nader. Die bedoeling van God was dat die boodskap van Sy ontferming en besorgdheid oor die welsyn van alle mense vanuit Jerusalem en die tempel sou uitkring. Vanuit Jerusalem moes die boodskap uitgaan dat die aarde nie bedoel is om vyandsgebied te wees nie.

In Jesus se tyd was Jerusalem anders as wat God dit bedoel het. Hy kom om die boodskap van God se vrede — God se shalom te verkondig. Vrede/shalom wat nie beteken die instandhouding van die status quo nie, maar die herstel van God se orde van reg en geregtigheid, van omgee en ontferming. God se orde wat heeltemal anders lyk as die wanorde van uitbuiting en verdrukking en die instandhouding van onregverdige sisteme.

Jesus kom om die wanorde te onthul. Hy kom in die Naam van God wat getuig dat Hy niks anders wil wees as die draer van God se liefde en ontferming nie. Sy nederigheid en weerloosheid staan in teenstelling met die mag en die geweld van hulle wat niks anders as hulle eie wanorde in stand wil hou nie.

Ook ons – al 3 dae in die nuwe jaar in, wat onsself volgelinge van Jesus noem en deel is van Sy kerk leef in baie opsigte nog steeds in vyandsgebied. Ons tyd het sy eie sisteme en stelsels (ook binne die kerk) wat nie noodwendig daarop gerig is om die belange van alle mense te bevorder nie.

Die kerk – God se mense, (ons) van wie Paulus sê dat hulle dieselfde gesindheid moet hê as wat daar in Christus Jesus was, vertoon dikwels nie die gesindheid van Jesus nie, maar eerder dié van sy vyande. Ons optrede getuig so min daarvan dat ons die onreg en die wanorde van ons tyd wil uitdaag. In baie gevalle lyk dit eerder asof ons, ons blind hou vir wat rondom ons aan die gang is, of, erger nog, asof ons stilswyend ons goedkeuring daaraan verleen.
Ons sal in 2021 bereid moet wees om duideliker te praat en sterker op te tree teen dinge soos gesinsgeweld, uitbuiting van vroue en kinders, ekonomiese stelsels, korrupsie ens…

Soos Jesus word ons geroep om ons intog in 2021 te maak in die gebied van die “vyand” — om die wêreld van onreg te betree en stelling in te neem teen alles wat God- en mensonterend in die samelewing is.
Ons weet wat die uiteinde van Jesus se intog was. Sy volgelinge het Hom aanvanklik entoesiasties vergesel en lofliedere oor Hom gesing Lukas 19:28 ev. Maar teen die einde van die week het die lofliedere stil geword. Byna almal saam met Hom het die rug op Hom gedraai. Sy teëstanders het Hom gevange geneem. Hy is deur die establishment verhoor en as moeilikheidmaker gekruisig. Weerloos soos Hy Jerusalem binnegekom het, het Hy ook aan die kruis gesterf.

Ook ons in 2021 wat soos Jesus geroep word om ons intog te maak in die wêreld van onreg, moenie verwag om oral met oop arms en groot instemming verwelkom te word nie. As ons reguit en eerlik praat oor dit wat verkeerd is in die wêreld en in die verhoudinge tussen mense, kan ons verwag om ook met weerstand te kampe te kry. Daar gaan ook pogings wees om ons stil te maak. Ons kan selfs die gevaar loop om gekruisig te word miskien nie letterlik nie, maar die wêreld het baie ander en subtieler maniere om “moeilikheidmakers” te kruisig.

Die pad van gehoorsaamheid agter Jesus aan in 2021 gaan in baie opsigte ‘n lydenspad, ‘n kruis-pad, ‘n pad wat in weerloosheid geloop gaan word – ‘n dienskneg-pad. Ons in Kloofendal maak ons daarom gereed om die pad agter Hom, Jesus aan, te loop.

Hy wat deur God uit die dood opgewek is die Een aan wie God die Naam gegee het wat bo elke naam is die Een voor wie elkeen in die hemel en op die aarde en onder die aarde eendag die knie sal buig en sal erken:

“Jesus Christus is die Here!”

Ons wat dit nou reeds bely, word geroep om saam met Hom vyandsgebied in 2021 te betree: Die NG Kerk sal haar ‘n profetiese rol nog duideliker moet uitspeel en uitleef. Die NG Kerk sal in 2021 en in die jare wat kom veral ‘n meer priesterlike rol — die rol van ‘n dienskneg — moet aanvaar. Soos wat die Here Jesus gedoen het sal ons ook moet leer om skottels te vat, voorskote om ons middels te bind, om ons mede-Suid-Afrikaners se voete te begin was”. Die kerk, elke gemeente, elke gelowige het die heel beste toerusting en wapens om juis dit te doen.

God self deur die HG – begelei ons as Sy getuieniskanaal uit Sy Woord deur:
– Suiwere Woordverkondiging.
– Liefdesdiens in elke gemeente en daarbuite. Want oor die hoop wat ons het moet nie net gepraat en gepreek word nie. Die hoop moet oë en ore, hande en voete kry in ‘n stukkende wêreld.
– Daardie nuwe lewende verhouding met Christus en ander (Koinonia). As op plaaslike vlak gemeentes mekaar omhels en versorg in venootskappe. Elke gemeente met haar unieke identiteit en daardie unieke “iets” in elke gemeente deel dit met ander – sonder om eie identiteit te verloor of prys te gee.
– Ons aanbidding, ons erediens, aan God (leitourgia). Ons erediens en aanbidding begin Sondae in die kerk, maar dwardseur die week moet dit deur elke gelowige in die wêreld voortgesit word.

2021 moet ‘n jaar wees waar ons elke dag ons lewens opnuut behoort te wy aan God. Kom ons volg Paulus se voorskrif in Rom 12:1-2.

Comments are closed.