27 Desember 2020 – Vreugdevolle Hoop

Goeie dag en ‘n hartlike welkom by ons boodskap vir Sondag 27 Desember 2020.

Skriflesings: Jeremia 30:1-3, 18-22; 31:7-14
Teks: Jeremia 30:7-9
Tema: Vreugdevolle Hoop

Vreugde is waarskynlik die laaste woord wat by ‘n mens opkom wanneer jy aan Jeremia dink. Sy boodskap is in baie opsigte ‘n donker een: ‘n boodskap van oordeel, verwoesting en die onvermydelike werklikheid van ballingskap.
Maar nou is die opskrif van hierdie hoofstuk: “Vreugdevolle hoop”. Is dit dan moontlik? sou ons kon vra. Is dit moontlik om oor Jeremia te praat en dan by vreugde uit te kom? Ek dink tog so, omdat Jeremia se boodskap ook sy boodskap van oordeel gebou is op ‘n grondslag van hoop. Moenie die fout maak om te dink dat die hoop waarop Jeremia se boodskap gebou is, oppervlakkige optimisme was nie.

Jeremia se boodskap is een van hoop, nie omdat dit dié soort optimisme probeer skep nie, maar omdat dit te doen het met die werklikheid van God. Jeremia werk veral met die grondoortuiging dat God ‘n God van liefde is. En daarom weet hy dat God se oordeel nie sy laaste woord is nie. Trouens, Sy oordeel is ten diepste die keersy van Sy liefde. God oordeel omdat Hy liefhet en omdat Sy liefde nie kan verduur dat onreg hoogty vier nie.

Hoop beteken om verder en dieper te kyk: om agter die hier en die nou vir God aan die werk te sien. Dit is om Hom te sien soos Hy werklik is: ‘n God van liefde; ‘n God wat trou bly aan sy beloftes. ‘n God wat mense wil help om weer na Hom en na mekaar toe terug te draai. Hoop beteken om saam met hierdie God vorentoe te kyk – verby dit wat ons oë “in werklikheid” sien, verby die ervaring van ballingskap, verby die pyn en die ontreddering van die oomblik, ja, verder as God se oordeel. Om vooruit te kyk na dit wat Hy nog in die toekoms tot stand gaan bring.
Jeremia wou sy mense help om te verstaan dat God se oordeel nie net bedoel is om te vernietig nie, maar ook en veral om iets nuuts en iets beters vir hulle te bewerk.

Dit is waarmee Jeremia sy mense wou help. En daarom lees ons in hoofstukke 30 en 31 één lang liriese gedig onder die opskrif: “Ek sal julle lot verander,” sê die Here by monde van sy profeet. “Julle sal my volk wees en Ek sal julle God wees. En dan sal julle sing van blydskap en ‘n loflied laat hoor.” Dit is die belofte waarop Jeremia se hoop gebou is.

Ons fout is dat ons baie keer ons vreugde afhanklik maak van ons onmiddellike omstandighede. Ons sien op talle plekke in die boek Jeremia hoe vreugde deurbreek ten spyte van die donker aard van sy boodskap en die donker dieptes van sy eie lewe. Dit is ‘n vreugde, nie as gevolg van omstandighede nie maar ten spyte van omstandighede. Dit is vreugde wat te doen het met die werklikheid van God.

Wanneer Jeremia die woorde van hoofstukke 30 en 31 neerskryf, het daar nog niks van sy eie omstandighede of van sy omstandighede of van sy mense se lotgevalle verander nie. Maar hy weet ook dat daar niks aan God se troue liefde verander het nie. God is nog daar. Hy is spesifiek daar as die God van liefde.

Deel in Klaagliedere is ‘n reeks liedere wat vertel van die dinge wat die inwoners van Jerusalem deurgemaak het toe die stad verwoes en die res van die bevolking in ballingskap weggevoer is. Die boek vertel van ontsettende ontbering en verskriklike ellende: (Klaagl 2:20-21).

Maar reg in die middel van die boek Klaagliedere, in die middelste lied, hoor ons skielik ‘n ander klank:
Maar dit sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot. Ek sê vir myself: Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom (Klaagl 3:21-24),

Dit is ook die taal van ware blydskap — nie vreugde oor omstandighede nie, maar vreugde oor God self.

Dit is vreugdevolle hoop.

.

 

Comments are closed.