25 April 2021 – Wie is Jesus vir my?

Goeie dag en baie welkom by die erediens vir Sondag 25 April 2021 in die gemeentesentrum te Opallaan 19, Kloofendal. Sien bygaande Toktokkie vir meer inligting en gebedsversoeke.

Met vriendelike groete,

Johan van Schoor
Gemeentebestuurder
NG Gemeente Kloofendal

PreekSkets Sondag 25 April 2021
Skriflesing: Matteus 16:13-20;
Teks: Matteus 16: 16. … “U is die Christus, die Seun van die lewende God.”
Tema: “Wie is Jesus vir my?”

1. Agtergrond
‘n Tyd gelede het ‘n span argeloë ‘n opspraakwekkende ontdekking gemaak. Hulle het afgekom op drie antieke doodskruike of urne, waarin die beendere van drie mense na verloop van baie eeue nog bewaar gebly het. Op die kruike staan die name van vermoedelik dié drie mense, naamlik Josef, Maria … en Jesus.

2. Verbaas!?
Die nuus hiervan het rimpelings nie alleen deur die argeologiese wêreld laat gaan nie, maar veral ook deur die godsdienstige en teologiese wêreld. Want, dat Josef se beendere êrens op aarde gevind mag word, is nog verstaanbaar — hy was immers ‘n mens, daarby in die Bybel ook nog ‘n randfiguur; dat Maria se beendere êrens opduik, is ook in orde — sy was ook maar net ‘n mens, ten spyte van die verering wat sommige vir haar het; maar Jesus?
Kyk, as dit werklik die beendere van Jesus in die urn is, dan word Hy mos afgetrek na die vlak van Josef en Maria, na die vlak van alle gewone mense, word sy beendere maar net nog ‘n paar in die lang ry van mense wat voor Hom gelewe en gesterf het, en die lang ry wat ook na Hom sou lewe en sterwe. Dan is al die getuienisse oor Hom, en al sy aansprake oor Homself, mooi stories, maar sprokies. Dan word die hartslag van die Nuwe Testament uitgeruk, die basis van ons geloof, van die kerk en die Christendom onder ons voete weggeneem. Dan bly daar in werklikheid niks daarvan oor nie …

3. Wie is Jesus?
Dis ‘n vraag wat al so oud is soos die Christendom self en wat vandag nog met belangstelling gevra word. Want van Jesus van Nasaret, wat, histories gesien, onder Pontius Pilatus gely het, gekruisig is en gesterf het, gaan daar ‘n fassinerende invloed uit; wat ook die mensdom van vandag nie met rus laat nie. En deur die eeue heen lui die antwoord, alhoewel met variasies, wesenlik dieselfde: Jesus? Hy was ‘n besondere mens, ‘n begenadigde deur God, ‘n godsdienstige genie, ‘n gondlegger van die godsdiens sonder gelyke in die geskiedenis, ‘n leier met die hoogste en diepste wysheid, ‘n revolusionêr vir die goeie … wie se beendere helaas in ‘n hopie in ‘n urn lê.

4. Jesus vra Sy dissipels?
Ook in Jesus se tyd het die mense Hom as mens geklassifiseer. … “Wie, sê die mense, is die Seun van die mens?” (Matt. 16:13), vra Jesus Sy dissipels op ‘n dag. Alreeds in die vraag sit net een van twee moontlikhede. Die term Seun van die mens sou doodgewoon as mens verstaan kon word, niks meer nie, en niks minder nie. Dit het egter volgens Ou Testamentiese verwagting ook kon beteken: die Een wat kom om oor die wêreld te oordeel, soos die profete van die ou verbond al lank gelede voorspel het. Die vraag is dus: Wat sê die mense van Hom wat beide is — ‘n mens soos enige ander mens, wat sou ly, vervolg en uiteindelik gekruisig word, en tog juis die Een is wat op ‘n besondere wyse die oordeel oor die wêreld voltrek?

5. Die antwoord
Die antwoord wat die mense hierop gee, getuig van die hoogste respek vir Jesus. “Party sê Johannes die Doper, pam Elia, party Jeremia of een van die profete” (v. 14). Dit getuig ‘n mens nie sommer van enige mens nie! Hierdie was almal formidabele figure, reuse in enige Israeliet se geloofsraamwerk, voorlopers van die uiteindelike Een wat sou kom, stormvoëls van die Regter van die wêreld, missionarisse van die Messias.
Maar nie Hy self nie.

6. Maar Hy is méér as dit alles.
Daarom vra Hy aan sy dissipelkring, en aan ons:
“Maar julle … wie, sê julle, is Ek?” (v. 15).
Waarop Petrus antwoord, nie op grond van natuurlike insig nie, maar omdat die Vader wat in die hemel is dit aan Die antwoord geopenbaar het met een van die aangrypendste en omvattendste aangaande Christus in die Nuwe Testament: … “U is die Christus, die Seun van die lewende God” (v. 16).

Dit is ‘n belydenis wat ook so oud is soos die Christendom, wat deur die eeue -heen in die hart en op die lippe van Christene weerklank gevind het. Één egg daarvan lui as volg, as ‘t ware as ‘n uitgebreide parafrase:
– U, die Seun van die mens, is waarlik mens, en tog ook die Een wat gekom het om die wêreld te oordeel.
– U is ‘n mens soos ander mense, ja, die menslikste mens van alle mense, maar tegelykertyd is U ook gans anders, naamlik die Seun van God.
– U is die Unieke, met wie geen ander mens vergelyk kan word nie: God self in ‘n mensegedaante, waarlik God én waarlik mens.
– U is ‘n profeet, maar dié Profeet van alle profete — hülle was maar net u voorlopers en heroute.
– U is ‘n priester, maar dié Priester, die Hoëpriester, wat Uself as Lam van God eens en vir altyd op die altaar van Golgota geoffer het om die sonde van die wêreld weg te neem — ook my sonde.
– U is ‘n koning, maar dié Koning van alle konings, en dié Here van alle here — ook my Here.
– U is die Messias, die Christus, in wie alle verwagtinge en hoop van Israel vervulling gevind het.
– U is die Seun van die lewende God, wat al die verlange en onrus van die nasies stil — wat hulle met hulle verkeerde godsdienste en valse filosofieë vergeefs en op verkeerde plekke wou stil.
– U is die Een wat met die evangelie alle godsdienste deurkruis en ophef en so die ware verlossing bring.

Dit, en véél meer, is Jesus — U is die Christus, die Seun van die lewende God!
Uitleggers het al gewys op die strategiese plasing en betekenis van hierdie belydenis in die breë opset van die Matteus-evangelie. Dit vorm die klimaks van ‘n lang voorafgaande gedeelte (vgl. 4:12-16:20) wat begin met Jesus se openbare optrede in Galilea waar die heidene woon (vgl. 4:17) en eindig in die nie-Joodse omgewing van Sesarea-Filippi. Dwarsdeur dié gedeelte word die vraag wat Jesus aan sy dissipels vra (vgl. 16: 1 3), uit verskillende hoeke en met toenemde dringendheid gevra.

7. Pertrus antwoord namens die dissipels
Hier bereik dit ‘n hoogtepunt in die geweldige moment wanneer Petrus namens die dissipels die belydenis doen, ‘n belydenis wat ook elders, nadat Jesus op die see geloop het, deur almal geëggo word: … “U is waarlik die Seun van God” (14:33).
Veral insiggewend is die plek waar die belydenis van Petrus uitgespreek word. Sesarea-Filippi was ‘n heidengebied waar die Griekse natuurgod Pan vereer is, en waar die Romeinse keiser titels soos Seun van God, Verlosser, en selfs God aan homself toegeken het, en inderdaad as God aanbid is. In hierdie afgodiese dampkring, plaas Petrus sy hele lewe op die spel wanneer hy bely dat Jesus die énigste ware Seun van God, die énigste Verlosser, ja, die énigste ware God self is!
Dit herinner aan wat Paulus ook elders bely:
“Daar is immers net een God, en daar is net een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus wat Homself as ‘n losprys vir almal gegee het …” (1 Tim. 2:5, 6)

8. Net een keuse.
‘n Mens kan net vir of téén hierdie Jesus kies. Daar bestaan nie iets soos ‘n grys area wat dit betref nie. Of Hy is die enigste ware God en Middelaar, of Hy is dit nie. Hierdie enkelvoudige keuse is trouens die kwalifikasie alhoewel dit geen kwalifikasie is nie, maar God se openbaring aan jou — om deel te mag wees van Jesus se dissipelkring, en so lidmaat te word van sy kerk. Hierdie basiese belydenis is die rots waarop die Here sy kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie (vgl. Matt. 16:18). Dis nie alleen ‘n doelbewuste keuse vir Jesus nie, maar ook ‘n radikale keuse téén al wat afgod is, of dit nou antieke of moderne afgode is. Ons kan nie twee here dien nie. Ons sal of die een minder ag en die ander een hoër, of vir die een meer oorhê en die ander een afskeep (vgl. Matt. 6:24).

9. Jesus is baie dinge vir baie mense.
Vir sommige is Hy:
– ‘n goeie mens,
– vir ander ‘n leermeester,
– ‘n wyse, of ‘n wonderwerker, of
– sommer net ‘n vals aanspraakmaker op Goddelike kragte,
– Vir party teoloë is Jesus ‘n profetiese figuur aan wie Messiaanse eienskappe postmortem deur sy volgelinge toegedig is, en
– vir ander is Hy inderdaad die Seun van God en die Here.

10. Die vraag na Jesus se identiteit.
Die vraag na Jesus se identiteit, wat reeds ten tye van sy aardse optrede in alle erns begin het, het vandag nog nie ten einde gekom nie. Daar is in ons eie dag wie weet hoeveel stemme en opinies oor Jesus. ‘n Mens kan nooit ooit neutraal oor Hom praat of dink nie. Jesus is nie maar net nog ‘n fiktiewe karakter in ‘n boek wat mens rustig kan wegpak en aangaan met jou lewe nie.

11. Jesus se aanspraak op Sy identiteit.
Jesus se aanspraak is onomwonde dat Hy die Messias en die Here is. Hierdie aanspraak het vir meer as 2 000 jaar reeds die tekens en die storms van die tyd deurstaan. Trouens, Jesus het al vele voorstellings, uitbeeldings en drogbeelde oor Homself deurstaan, maar nogtans weerklink die basiese belydenis van Petrus (namens alle dissipels) steeds hier in ons dag oor Jesus dat Hy die Messias, die Seun van die lewende God is. Eweneens weerklink Jesus se antwoord hierop dat elkeen wat dit agterna sê deur God self met hierdie insig en kennis verlig is. Nie eens die poorte van die doderyk sal ooit hierdie getuienis oor Jesus stil kry nie. Ék sê: Ek glo Hy is die Een wat gesê het: EK IS DIE EEN WAT IS… Hy is die een wat aan die kruis gesterf het, het en nie in ‘n kruik agtergebly nie. Hy het opgestaan, die dood oorwin, Sy/die graf is leeg. Hy het aan sovele verskyn. Hy sit nou as Koning aan God se regterhand. Vraag: Wie, sê die mense, en ook ek en jy vandag, is Jesus? Die vraag is eintlik: Wie, sê jy, is Jesus vir jou? Amen

 

Comments are closed.