10 Januarie – Die dwaasheid van God teenoor die wysheid van die wêreld – veral geweeg teen die dwaasheid van die kruis

Goeie dag en baie welkom by ons e-diens vir 10 Januarie 2021.

In terme van die Vlak 3-inperkings wat tans geld, is daar Sondag 10 Januarie 2021, geen erediens in die kerkgebou nie, maar jy word vriendelik uitgenooi om by die erediens op YouTube te volg met die skakel: https://youtu.be/oZx0Zyr_3Uc

Lees asseblief ook die gebruiklike Toktokkie met die gebedsversoeke.

Preekskets:

Lofsang: Flam 465-U’s my God
Skriflesings: 1 Korintiërs 1:18-31
Teks: 1 Korintiërs 1:18
Tema: Die dwaasheid van God teenoor die wysheid van die wêreld – veral geweeg teen die dwaasheid van die kruis.

Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God (1 Korintiërs 1:18)

Ons het vandag al so gewoond geraak aan die simbool van die kruis, dat ons eintlik vergeet dat dit ten diepste ‘n teken van dwaasheid is. Ons vergeet dat die kruis-dood in die wêreld van destyds uitgehou was vir mense uit die laagste klasse van die samelewing — veral slawe, geweldsmisdadigers, en dan heel spesifiek ook vir mense wat ‘n bedreiging vir die openbare orde ingehou het.

As ons dit besef, dan verstaan ons wat Paulus bedoel wanneer hy praat van die dwaasheid van die kruis. Die kruis beteken dwaasheid in terme van enige dominante kultuur die oorheersende kultuur van destyds en ook van vandag.
– Die oorheersende kultuur van destyds was ‘n magskultuur. Mag was reg; wat jy ook al met mag kon as ons dit besef, dan verstaan ons wat Paulus bedoel uitvoer, was geoorloof.
– Die oorheersende kultuur deesdae is ‘n prestasiekultuur. Die een wat die beste presteer, is die een met die beste kans om te oorleef in die wedywering wat as die rotteresies bekend staan. Op ‘n manier is dit nog steeds ‘n magskultuur, want om te presteer beteken om toegang te kry tot mag.

In terme van albei kulture — die hedendaagse prestasie- en die destydse magskultuur is die kruis ‘n simbool van dwaasheid. Teenoor mag sien ‘n mens in die kruis die weerloosheid van ‘n slagoffer; teenoor prestasie Sien ‘n mens die mislukking van die gekruisigde se lewe. Dit is wat die kruis verteenwoordig: weerloosheid in plaas van mag; mislukking in plaas van prestasie.

Daarom kan ons praat van die dwaasheid van die kruis. Hierdie dwaasheid lei daartoe dat volgens die maatstaf van die magtiges — die verkeerde wapens gekies word om ‘n verskil te maak aan die manier waarop dinge in die wêreld verloop. Dwaasheid… en dan nie net die dwaasheid van die mens Jesus wat te naïef en onskuldig vir hierdie wêreld was nie. Maar dieper as dit ook die dwaasheid van God.

Want Christene glo dat die Jesus wat gekruisig is, ten volle mens was, maar tegelyk ook ware God.
Dit beteken dat die dwaasheid van die kruis vir ons iets sê oor God self. Dit sê vir ons dat God kies om Homself aan ons bekend te maak in die Gekruisigde: in die weerloosheid, die magteloosheid van die Gekruisigde. Dit is hoe God kies om Homself bekend te stel. Hoekom? Omdat God Hom verbind met die weerloses, die ellendiges die uitgeskuifdes, die verdruktes van hierdie wêreld. En dan nie omdat daar iets deugsaams in menslike swaarkry en ellende is nie. Maar omdat God ‘n God van ontferming is. God kan dit nie verduur dat mense ly nie, en daarom kies Hy die kant van die ellendiges.

Dit is waaroor Jesus se lewe gegaan het. Sy hele lewe was een van ontferming; ‘n lewe van uitreik na die misrekendes wat hulle nie kon handhaaf in ‘n wêreld waar mag reg was nie. Die dwaasheid van Jesus se lewe was dat Hy kant gekies het vir hulle wat nie geleerd, invloedryk of mense van aansien was nie. Hy kies die geselskap van die uitgeworpenes, die armes en die eenvoudiges in die samelewing. En Hy doen dit om hulle te bemagtig — om hulle in staat te stel om hulle eie waarde en waardigheid te ontdek.

Die uiteinde van Jesus se keuse was die kruis op Golgota. Want die samelewing duld geen kantkiesery vir die uitgeworpenes, die eenvoudiges en die armes nie. Sulke mense mag ook nie bemagtig word nie. Sodra die magteloses bemagtig word, word die magtiges bedreig. En dit was die dwaasheid van Jesus se lewe: dat Hy die magteloses wou bemagtig.

Dit is die dwaasheid waartoe ons ook geroep word. Want die kerk is nie bedoel om ‘n magsinstansie of gemaksone te wees nie. Die kerk is bedoel om die liggaam van Christus te wees wat Christus hier op aarde verteenwoordig en sy werk tussen mense moet voortsit. En dit is steeds bedoel om ‘n weerlose liggaam te wees. Want die lede van hierdie liggaam, sê Paulus, is ten eerste nie geleerdes, invloedrykes of mense van aansien nie.

Dit laat ‘n mens eintlik wonder: Wat maak mense soos ons in die kerk? Wat is God se bedoeling wanneer Hy ons ook in die liggaam van Christus opneem? God wil hê die soort gawes waaroor ons beskik — gawes van onder meer geleerdheid, invloed, die vermoë om dinge te laat gebeur moet vir die hele liggaam beskikbaar wees. Waarom? Nie om van die liggaam ‘n gemaksone of magsinstansie te maak nie. Maar om van die liggaam ‘n plek te maak waar die magteloses bemagtig word en ons almal saam op ‘n manier ‘n verskil aan die wêreld kan maak.

Wat vir die wêreld die onsin van God is, is tog groter wysheid as die wysheid van menses En wat vir die wêreld die swakheid van God is, is tog groter as die krag van mense.

Kern van die evangelie
Paulus skryf dat die “woord van die kruis” dwaasheid is vir dié wat verlore gaan, maar vir gelowiges die “krag van God” (1:18-19a). Die feit dat Paulus dié leer wat hy verkondig, die “woord van die kruis” noem, wys duidelik dat Christus se kruisdood vir hom die kern van die evangelie is. Om hierdie rede is volgens hom die goeie nuus van Christus onsin in die oë van die wêreld – ‘n wêreld vir wie dié dood slegs op swakheid, teleurstelling en mislukking dui.

God handel egter nie volgens menslike wysheid nie. Paulus haal Jesaja 29:14 aan waar die profeet aanvoer dat God as’t ware menslike wysheid “vernietig en tot niet maak” (1:19b). In aansluiting by die Jesaja-teks, daag Paulus op byna spottende wyse die legitimiteit van die sogenaamde “wysgeer” en “skrifgeleerde” en “slim woordvoerder” uit. Hy vra of God nie keer op keer die wysheid van die wêreld “tot onsin” gemaak het nie? (1.20).

Paulus gaan voort om te verklaar dat dit nog altyd God se bedoeling was dat die mens nie deur geleerdheid gered moet word nie, maar deur wat vir die wêreld onsin is (1:21), naamlik “Christus wat gekruisig is” (1:23). Ja, vir die Jode is die kruis ‘n aanstoot en vir die Grieke is dit pure gekheid (1:22-23), maar vir diegene wat deur God geroep word, Jode sowel as Grieke, is die gekruisigde Christus die “krag van God” en die “wysheid van God” (1:24). “Wat vir die wêreld die onsin van God is,” voer Paulus aan, “is groter wysheid as die wysheid van mense, en wat vir die wêreld die swakheid van God is, is groter krag as die krag van mense” (1:25). Hierdie uitspraak vat die kern van sy boodskap in hierdie perikoop saam.
Lied: Voor ons afsluit kom ons sing: He touched me

Afsluiting
‘n Boodskap vir ons in Kloofendal vir 2021
Paulus se woorde praat ook vandag op kragtige wyse met ons. Ons leef immers in ‘n wêreld wat in baie opsigte steeds deur die soeke na wysheid gedefinieer word.

Hierdie soektog vind dikwels op die internet en op sosiale media plaas, waar mense daagliks met tallose verskillende idees gekonfronteer word – idees wat vir ons wil sê wat ons moet dink en doen om suksesvol te wees en ‘n sinvolle lewe te lei.

Maak geen fout nie Christus se kruisdood is sonder twyfel ook in ons tyd ‘n teken van swakheid en dwaasheid, waarvan dikwels ‘n bespotting gemaak word. Vir gelowiges bly dit egter die krag en wysheid van God wat ons red en nuwe lewe gee – nie uit ons eie verdienste nie, maar slegs uit God se genade.

Ons teks sê egter: dit is slegs vanuit die gawe van die kruis – onsinnig vir baie mense – dat ons dors geles word en totaal genesing ontvang. Ons word genooi om in 2021 te rus, om ons te veranker, in die werk van God vir ons – die werk van God wat Christus aan die kruis vir ons gedoen het.

Paulus argumenteer meermale v18 dat die kruis van Christus die openbaring van God se krag is, die grondslag van die Christelike evangelie en geloof. Paulus stel die kruis van Jesus as die wysheidswoord van God.
Hierdie kruisevangelie is nie ’n boodskap OOR die krag van God nie, maar vir die wat gered word, IS dit die krag van God. Rom 1:16.

Amen

 

Comments are closed.